Die diereregtegroep Animal Rights Africa, ARA, sal Dinsdag ‘n saak in die hooggeregshof in Pietermaritzburg maak in ‘n poging om die ‘wrede’ bulslagritueel, Ukweshwama, te keer.
Michele Pickover, woordvoerder vir dié organisasie het Sondag gesê hulle het reeds ‘n prokureur gevra om namens die ARA op te tree.
Ukweshwama sal deur Koning Goodwill Zwelithini op 5 Desember vanjaar aangebied word. In dié ritueel martel en moor jong Zoeloe-mans ‘n bul met hul kaal hande.
Die bul word op die grond vasgepen en sy tong word uitgetrek terwyl hande vol grond in sy mond in gestop word. Sy oë word uitgeruk, sy geslagsdele word vermink en verdere grusame foltering vind plaas tot die bul dood is.
“Die Ukweshwamaritueel doen niks om ons nasie te verstek, op te bou of vrede te bemark nie. Dit is vir ons pynlik en ‘n belediging dat ‘n dier so moet ly” het Pickover gesê.
Vroeër vanjaar is pres. Jacob Zuma deur die diereregte-aktivis, Maneka Gandhi, in ‘n brief gevra om in te gryp en die bul-ritueel te beëindig.
