Die komende verkiesing sal die eerste wees wat sonder die hulp van buitelandse vredesmagte sal geskied. Daarom sal die kapasiteit van die land se eie veiligheidsmagte om orde te verseker van die hoogste belang wees om die verkiesing te laat slaag.
Die polisiemagte was egter verlede week bekommerd oor die stygende voorkoms van geweld. Die weermag het verklaar dat hulle bystand sal verleen om die verswakkende situasie, soos die opstand oor die naweek in Kailahun, 190 km van die hoofstad, onder beheer te hou.
Opposisiepartye beweer dat hulle deur die regerende party se lede aangeval is. "Hulle het die paaie afgesper en drie skote afgevuur. Dit was chaos, maar die geweldenaars is deur ons ondersteuners oorrompel," het die segsman van die opposisie, Mohamed Bangura, aangedui.
Die regeringsparty ontken die weergawe en sê dat hulle padversperring aangeval is. Ten minste twee mense, waarvan een ‘n suigeling, is ernstig gewond tydens die insident volgens hospitaalwoordvoerders. Die burgeroorlog het in 1991 in dié gebied uitgebreek en die regering het ‘n ondersoek na die oorsaak van die voorval gelas.
‘n Polisiewoordvoerder het bevestig dat hulle ‘n "ferm" houding sal inneem teenoor persone wat met verkiesingsgeweld gemoeid is. Tot dusver is egter nog net twee mense aangekla in verband met voorvalle in Bo, 180 km suid van Freetown. Skermutselinge tussen die opposisie- en regeringsondersteuners het weer eens opgevlam.
Volgens Festus Minah, hoof van ‘n burgerlike inisiatief in Sierra Leone, is dit "natuurlik" en "voorspelbaar" dat "getraumatiseerde persone" uit ‘n tien jaar lange burgeroorlog só sal optree. Maar volgens prof. George Koroma, politieke wetenskaplike aan die Universiteit van Sierra Leone, is armoede die oorsaak van geweld.
Alhoewel die land ryk is aan diamante, is dit die tweede armste land op aarde. Dit was voorheen ‘n Britse kolonie. Koroma sê voorts dat die regerende party gratis voedsel en drank by hulle byeenkomste aanbied vir kiesers wat ‘n partykaart kan toon en dat dit aanleiding tot geweld gee.
