Wie is vandag ’n “Suid-Afrikaner”? Die maklike antwoord is “enigiemand wat ’n paar honderd rand omkoopgeld aan ’n amptenaar van binnelandse sake kan betaal”. Maar die instroming van Zimbabwiërs en ander ekonomiese vlugtelinge uit Swaziland, Lesotho, Malawi, Zambië en ander lande skep ’n probleem wat op die duur vernietigend op die voortbestaan van ons staat gaan inwerk. Uiteindelik gaan ons vasval in argumente oor wie nou eintlik hier hoort of nie hier hoort nie.
Geen staat, nie eens Suid-Afrika met sy najaag van die sogenaamde “reënboognasie”, wat ’n blote mite is, kan sonder ’n nasionale identiteit of die handhawing van landsgrense en gebiedsintegriteit bestaan nie. ’n Onhoudbare situasie word nou geskep wat die huidige geweld en maatskaplike spanning gaan verhoog.
Net soos in Zimbabwe, gaan die waarskynlikste strategie wees om minderheidsgroepe vir die probleem te blameer. Ten einde die swart rassenasionalisme onderliggend aan Suid-Afrika en Zimbabwe se transformasie-ideologie in stand te hou, gaan Afrikaners en Engelssprekende blankes as die “indringers” gesien word wat liefs “moet padgee”.
Suid-Afrika se infrastruktuur, asook welsynsdienste, kan nie eens die huidige bevolking van “Suid-Afrikaners” bedien nie. Hoe op aarde gaan ons miljoene Zimbabwiërs en ander Afrikane van voedsel, onderwys, gesondheidsorg en werk voorsien?
Die ANC en veral sy huidige president, Thabo Mbeki, is ’n wêreldvreemde organisasie wat hoofsaaklik deur die Britte en Amerikaners (hulle wat “demokrasie” so suksesvol na Irak uitgevoer het) aangestel is om ons te regeer. Vandaar Mbeki se onlangse uitspraak dat “ons nie veel kan doen om die instroming van Zimbabwiërs te keer nie”. Ook het Cleo Mosana van Suid-Afrika se departement van binnelandse sake, soos onlangs op die Praagwebwerf berig is, verklaar dat die ANC-bewind “die Zimbabwiërs in Suid-Afrika wil integreer” en dat hulle daarom nie summier teruggestuur sal word nie.
Die ANC wil of kan nie meer Suid-Afrika se gebiedsintegriteit handhaaf nie. Hy stuur die boodskap na die 600 miljoen armes suid van die Sahara uit dat die helder liggies van Afrika se grootste ekonomie “vir almal op die vasteland brand” en dat elkeen maar hier kan kom plak. Dít wat Europa en Amerika met hul kolossale ekonomieë en infrastruktuur nie bereid is om te doen nie, m.a.w. om Afrika se honderde miljoene “agtergeblewenes” met ope arms as immigrante te aanvaar, word nou op ons afgeforseer.
In die lig van die wêreldwye sensitiwiteit rondom immigrasie wat die botoon in die Amerikaanse en veral Europese politiek voer, is dit eenvoudig verbysterend dat die Xhosa-elite wat Suid-Afrika tans vanuit die Ooskaap regeer, dit op homself geneem het om boonop ’n “bevolkingstransformasie” toe te pas. Dit is nou benewens die vele ander “transformasies” wat reeds aan die gang is en wat ons land in ’n hel van wetteloosheid en geweld omskep het.
Die soort spanninge wat tans in Suid-Afrika oplaai, gaan vroeër of later breekpunt bereik. Vele mense erken dat die verskynsel wat as “misdaad” getipeer word, eintlik reeds ’n laegraadse burgeroorlog is. Die Zimbabwiese grens wat “suid skuif” kan ons land in ’n volskaalse burgeroorlog dompel, net soos wat in soortgelyke situasies in die Ivoorkus, die Kongo en ander Afrikastate gebeur het.
Dit is verblydend dat ’n groep boere in die Noord-Transvaal reeds vrywillig die Limpopogrens patrolleer in ’n poging om die Zimbabwiese instroming te stuit. Veel meer is egter nodig en ook stedelinge sal by dié aksie betrek moet word. Die Afrikanergemeenskap sal dit moet oorweeg om ’n soort diensplig in te stel en jong mans vir ’n nuwe grensdiens aan te wend, dié keer nie teen Kubane nie, maar teen Zimbabwiërs wat jare lank hul transformasionistiese diktator by die stembus ondersteun het en nou die vrugte daarvan pluk.
Die Afrikaner het geen ander vaderland nie. Nou, meer as ooit in die verlede, sal hy dit moet beskerm. Sekerlik gaan die Xhosa-oligarge in hul swart Mercedesse wat die land soos Ali Baba se grot beskou, dit nie vir hom doen nie.

Die huidige toestroming van Zimbabwiërs oor die Limpopogrens was die voorspelbare resultaat van die “suksesvolle transformasie” van daardie land waar ’n gevestigde blanke bevoking verdryf en ekstreme Afrosentrisme ingestel is.