Sowat 60 busbestuurders en werkers het Maandag onwettig gestaak, het die Pretoria stadsraad gesê.
“Die stad erken dat die staking op ‘n baie slegte tyd gekom het, veral omdat leerders tydens hul eksamens hierdeur beïnvloed word,” het woordvoerder Dikeledi Phiri gesê nadat sommige studente amper hul eksamens misgeloop het.
Phiri het gesê planne is onmiddellik beraam om alle studente wat weens die staking sonder vervoer gesit het, betyds by hul skole te kry.
Die staking het tot ‘n einde gekom nadat die stad se bestuur en leierskap ingemeng het. ‘n Ooreenkoms is bereik dat diegene wat staak terug sal keer na hul poste nadat die stad vir drie ure lank met vakbonde se verteenwoordigers vergader het.
“Ons glo dat dié staking nou iets van die verlede is soos wat Maandag ooreengestem is en dat busdienste weer van Maandagmiddag af soos normaal sal loop,” het Phiri gesê.
