Genl. Siphiwe Nyanda, die minister van kommunikasie, het met sy aankondiging in die parlement die “vrywillige” verlaging van die tarief vir interkonneksie vir selfone as ’n Kers- en Paasfeesgeskenk vir die verbruiker bestempel. Interkonneksie-tariewe gaan met 36c daal.
Die interkonneksie-tarief is die bedrag wat een netwerk aan ’n ander moet betaal om ’n oproep na die ander netwerk oor te skakel. Dié tarief is van die hoogste in die wêreld.
’n Verlaging in dié tarief sal die selfoonnetwerke in staat stel om ook gewone selfoontariewe te verlaag.
Dit volg nadat die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) voorgestel het dat die netwerke self met mekaar onderhandel en ’n laer tarief beding.
Nyanda moes verlede maand egter ’n nuwe beleidsvoorskrif by die parlement indien omdat selfoonoperateurs traag was hulle winste in te boet.
Die portefeuljekomitee gemoeid met die kwessie wou interkonneksie-tariewe met tot 60c verlaag. Netwerke het daarna dadelik onderneem om nuwe en bekostigbare kleinhandelprodukte reeds in Desember vanjaar in te stel.
MTN en Vodacom het die 36c voorgestel omdat ’n drastiese verlaging in tariewe hul sakemodelle sou beïnvloed en voorgestel dat die tariewe eerder stelselmatig verlaag moet word.
Nyanda het gesê dié verlaging sal meer mededingendheid in die mark sal bring.
Nyanda het sy beleidsvoorskrif onttrek om die proses verder aan te help.
“Ons is bly dat die bedryf ’n vroeë oplossing gevind het tot die kwessie van laer selfoon-interkonneksie-tariewe,” het mnr. Shameel Joosub, besturende direkteur van Vodacom Suid-Afrika gesê.
Vodacom en Cell C se tarief sal van R1,25c tot R0,89c in spitstye verlaag word en dit sal reeds in Februarie van krag wees.
MTN se verlagings tree eers in Maart in werking.
