Chirac gaan van korrupsie aangekla word

Oudpres. Jacques Chirac, 76, van Frankryk gaan van korrupsie aangekla word, het ’n vroulike ondersoekregter, Xavière Simeoni, gelas.

Die aanklagte het betrekking op die tyd voordat Chirac in 1995 staatshoof geword het, toe hy burgemeester van Parys was.

Hy het na bewering toe 21 poste in die Paryse munisipaliteit geskep sonder dat daarvoor gewerk is. Die poste was glo as beloning vir politieke en ander vriende uitgedeel.

Chirac was van 1977 tot 1995 burgemeester van Parys. Terwyl hy president was, het hy immuniteit teen vervolging geniet Hy het twee jaar gelede afgetree. Peilings wys dat Chirac se gewildheid sedert sy aftrede versterk het.

Die oud-president hou tans in Marokko vakansie en is luidens ‘n verklaring “ontspanne” oor die aanklagte. Hy sê die poste, hoofsaaklik in kuns en kultuur, was nie ‘n kullery nie en dat elke pos wel gevul was.

Intussen het Ségolène Royale, die sosialistiese party se kandidaat vir die 2007-verkiesing gesê die klagte moet laat vaar word. “Vandag is hy [Chirac] ‘n man wat verdien om met rus gelaat te word.”

Sarkozy het voor sy verkiesing as president in sy boek, in Engels vertaal as Testimony, oor die onderwerp belowe dat hy die “afsydige” politieke klas waaraan Chirac behoort, tot ‘n einde sal bring. Kandidaat Sarkozy bevestig ook sy verbintenis met die VSA en sê dat Frankryk nader aan Amerika is as baie ander lande.

Die huidige president se sorge groei. Sy vrou, Carla Bruni-Sarkozy, se selfgesentreerdheid en gebrek aan begrip vir die kwellinge van gewone mense is onlangs met dié van Marie-Antoinette vergelyk in ‘n voorbladartikel van die tydskrif Point de Vue.

Bruni was glo instrumenteel in die aanstellings van die minister van kultuur, Frédéric Mitterand, en die hoof van die radiostasie France Inter, Philippe Val. Mitterand het in sy outobiografie onthul dat hy gereeld seks met minderjariges gehad het.

Sarkozy se ondersteuning vir Roman Polanski, die filmregisseur en vermeende kinderverkragter, het ook kritiek uitgelok.

Daarbenewens het Sarkozy ook onlangs sy seun Jean, 23, vir ‘n pos ver bokant sy bekwaamheid aangeraai en vir ‘n herrie in Frankryk gesorg.

Die besluit om Chirac aan te kla lyk dus na ‘n foefie van Sarkozy om die negatiewe media-aandag van homself af te lei.

 

movie over 21Данильченко

Maak 'n opvolg-bydrae