Vanaf 2008 wil die minister studente by die beste militêre opleidingskole inskryf vir oorbruggingsklasse alhoewel hulle nie kwalifiseer vir toelating nie. "Dit is nie ‘n geval van die toelatingsvereistes wat ons wil verlaag nie, maar om die jeug te kry om in ‘n goeie omgewing te studeer want hulle glo dat sulke instellings nie vir hulle is nie." Só gesels ‘n amptenaar wat gemoeid is met die saak.
Die Infanterie rekruteer 13 000 siele per jaar en is besonder sensitief oor die aangeleentheid. Dit is "’n sentrale onderwerp, een wat ons ná aan die hart lê," sê die opperbevelvoerder generaal Bruno Cuche. As ‘n oud-bevelvoerder van Saint-Cyr meen die generaal dat hy nog nie die "sigbare minderhede" opgemerk het nie. Die ideaal volgens hom is dat die weermag die bevolking ten volle weerspieël.
Sy direkteur van Indiensneming, generaal de Bavinchove, voeg by dat die enigste gekleurde gesigte by Saint-Cyr Coëtquidan dié van buitelanders is. "Ons is dekades agter die VSA." Dit sal weliswaar eers in 2040 wees dat een van die kinders van immigrante-ouers ‘n bevelsposisie sal beklee indien hy vandag aansluit.
Eric Deroo, historikus wat navorsing oor koloniale troepe gedoen het, sê daar was "in die dertigerjare ‘n vyftigtal swart offisiere (…) maar nog nooit ‘n swart generaal nie."
Desnieteenstaande is immigrante se kinders aangetrokke tot die weermag. Op die oomblik skat waarnemers dat 15% van die mag uit nie-blankes bestaan. Word daar teen hulle gediskrimineer? In ‘n boek oor die onderwerp wat deur die ministerie van Verdediging geborg is, Couleurs du drapeau (Kleure van die Vlag), sê die skrywers dat nie-blankes Frans voel, maar dat hulle dikwels sukkel om die weermag dit te laat glo.
Die neteligste kwessie is Islam en die Moslemgeloof. Hulle voel dat die Franse agterdogtig bly dat daar ‘n verdeelde lojaliteit by sulke soldate is. In 1975 was die bevelvoerder van die Spesiale Magte in Laos egter generaal Wolsztynski, seun van ‘n Poolse immigrant, en voorstanders van "diversiteit" dink hy sal as uitstekende voorbeeld dien om die bevelstruktuur te verswart…
