Botswana se regerende party het Sondag ‘n oortuigende oorwinning behaal. President Ian Khama sal dus die volgende vyf jaar steeds aan bewind bly ten spyte van ekonomiese ellende in die wêreld se grootste diamantprodusent.
Khama het die presidentskap behou toe sy Botswana Democratic Party, BDP, 45 van die 57 kiesafdelings gewen het terwyl die hoofopposisie omtrent die helfte van hul kiesafdelings aan ‘n splinterparty afgestaan het.
“Ons het hierdie party baie goed bestuur. Ons het ervaring en Botswana vertrou ons, veral in moeilike tye,” het BDP-woordvoerder, Comma Serema aan AFP gesê.
“Ons het gehoop vir ten minste 50, maar ons is meer as gelukkig.”
Die regerende party beplan ‘n oorwinningsaamtrek later vandag in die hoofstad, met Khama se inhuldiging wat vroeg volgende week verwag word.
‘n Groep van 88 toesighouers van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap was Sondag vol lof vir die verkiesing se “vrede en rustigheid” en hoë vlak van politieke verdraagsaamheid.
