Die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) het die publiek Donderdag aangemoedig om deel te neem aan die openbare vergaderings oor Eskom se aansoek vir verhogings van kragtariewe.
Eskom se aansoek vra vir ’n verhoging van 45% per jaar vir die volgende drie jaar.
Nersa sal op 29 Oktober ’n dokument publiseer wat in effek vir kommentaar op die aansoek sal vra.
Openbare vergaderings sal in Gauteng van 20 Januarie tot 22 Januarie 2010 gehou word.
“As gevolg van die groot openbare belangstelling in Eskom se aansoek oorweeg Nersa om streeks- en provinsiale vergaderings vir die publiek oor die aansoek te hou,” lui ’n verklaring van die reguleerder.
As dit wel besluit word, sal besonderhede later bekend gemaak word.
Nersa moedig alle belangstellendes aan om geskrewe voorleggings te doen en die vergaderings by te woon of om mondelingse bydraes by die byeenkomste te lewer.
Nersa sê hy sal sy besluit oor die aansoek op 24 Februarie 2010 bekend maak.
