Altesaam 426 polisiebeamptes is tussen April 2008 en Augustus 2009 aangekla van moord, verkragting, korrupsie en gewapende roof.
Nathi Mthethwa, minister van polisie, het dié onthulling gemaak in reaksie op ‘n geskrewe vraag van die DA.
Mthethwa het gesê 82 polisiemanne is in dieselfde tydperk ontslaan.
Regoor die land is 60 beamptes, waarvan 17 ontslaan is, vir moord aangekla en 39 beamptes, waarvan slegs sewe ontslaan is, aangekla van verkragting.
Driehonderd-en-ses beamptes, waarvan 51 ontslaan is, word aangekla van korrupsie en 21 beamptes, waarvan sewe ontslaan is, is afgedank.
Dianne Kohler-Barnard, DA-woordvoerder, het in ‘n verklaring gesê dít is ‘n groot openbaring van die regering se onvermoë om die polisiediens in so ‘n mate te bestuur dat die wetstoepassers die wet gehoorsaam.
“Dit is net eenvoudig onregverdig dat die mense wat verantwoordelik is om die onskuldiges te beskerm, self skuldig is aan verkragting en moord.”
Intussen is ‘n metro-polisiebeampte van Pretoria in hegtenis geneem nadat hy en twee verdagtes in ‘n huis in Wierdabrug naby Pretoria ingebreek het.
Console Tleane, die woordvoerder van Pretoria se munisipaliteit het gesê die SAPD en die mentropolisieeenheid het inligting ontvang wat beweer dat dié beampte in kriminele aktiwiteite betrokke is.
“Die munisipaliteit se departement van veiligheid is diep teleurgesteld in die polisieman se gedrag,” het Tleane gesê.
‘n Interne prosedure sal so vinnig moontlik aan die gang gesit word om die verdagte te skors.
