Die argument uit sekere kringe dat Zuma eers die grondwet moet verander om polisiebeamptes se magte om maksimum geweld te mag gebruik, uit te brei, is loutere onsin. Dis bloot eerder ‘n poging van die elite om die eerste skoot te vuur om verandering aan ons grondwet aan te bring. Sou hulle hierin slaag sal die grondwet daarna wawyd oop wees vir enige verander en binne ‘n kort tydperk totaal verkrag kan word deur politiese opportuniste.
Soos prof. Pierre de Vos, dosent in grondwetlike reg aan die Universiteit van Kaapstad dit stel, het die polisie reeds genoeg vryheid om hul werk te doen. De Vos sê onder andere “Die bepalings wat tans geld, gee die polisie al die skietgoed wat hulle nodig het, maar verhoed terselfdertyd dat beamptes nie soos in die apartheidtyd skietlustig raak nie. Geen wet verbied die polisie of ’n burgerlike om iemand dood te skiet as hy of sy ’n wesenlike gevaar inhou nie.”
Dus, die interpretasie van die wet is wat tans die problem is. Die verandering van artikel 49 van die Strafproses Wet, die sogenaamde “hardloop-skiet-wet”, het bloot verhoed dat enigeen na willekeur net op ander persone kan skiet om te dood. In baie gevalle is mense gedood wat nie eens ‘n misdaad gepleeg het nie maar bloot ‘n verdagte was. Om te wil beweer dat die polisie of enige burgerlike wie se lewe bedreig word, of ander omstanders se lewens, deur ‘n aggressor wat boonop gewapen is, nie mag skiet om te dood nie, is belaglik. Hoe kan ‘n persoon of groep persone wat met wapens op die polisie of landsburgers vuur vir vredeliewendes aangesien word Mnr. Zuma?
Sedert 1995 het die regering die polisiemag en landsburgers geïndoktrineer om te glo dat lewe nie mag beskerm word teen die bose kriminele nie en indien jy hul sou dood dit nie uit selfverdediging was nie. Dis verbasend hoeveel landsburgers oningelig is rakende Wet 51 van 1977, die Strafproses Wet. Ons regters het gehelp met teenstrydige hofbeslissings teen wetsgehoorsame landsburgers om die krimineel meer magte te gee. Tot op die punt waar ons met ‘n totaal onaanvaarbare moordsyfer sit. Nou wil hulle voorgee dat die grondwet bepalend moet wees.
Hierdie regering het die polisie wat die publiek moet beskerm se tande getrek. Tweedens probeer hulle ook om die wetsgehoorsame burger wat wapens uit noodweer moet dra, te ontwapen wat teenstrydig met die grondwet is. Wat stel hulle daar vir ons wat weerloos staan teen die misdadigheid wat hulle self kweek? Die liberaalstes onder die liberales glo steeds dat ons misdaadsyfer nie deur die afskaffing van die doodstraf veroorsaak is nie. Ek daag hulle almal uit om die doostraf terug te bring en vir hul self te sien hoe krimineelvry hierdie land sal word. Ek sê: Vang hulle, en hang hulle!
