Die ANC het Maandag teruggekap nadat die VF+ hulle aangemoedig het om dissiplinêre stappe teenoor Julius Malema en die ANC-jeugliga te neem.
Volgens Brian Sokutu, ANC-woordvoerder, is dissiplinêre optrede teenoor lede van die party ‘n interne saak en kan niemand hulle aansê wat om te doen nie.
“Indien optrede nodig is sal ons self daaroor besluit, nie omdat enigiemand anders ons aansê om dit te doen nie,” het Sokutu gesê.
Hy het ook gesê dat die ANC se standpunt oor ras duidelik was en dat hulle alle rasse verteenwoordig en ondersteun.
Die VF+ het die ANC aangeraai om Malema, asook die liga aan te vat na kontroversiële uitsprake deur Floyd Shivambu, die jeugliga se woordvoerder.
Volgens Rapport het Shivambu glo gesê dat die meeste wit mense rassiste is en dat hulle nie die oorwinning van Caster Semenya vier nie omdat sy nie wit is nie.
