‘n Reuse-aardbewing van 7.9 op die Richterskaal naby die eiland Soematra, het in die stad Padang groot geboue verwoes en vernietigende brande veroorsaak, het geoloë gesê.
“’n Aantal hotelle is vernietig,” het Rahmat Triyono, die hoof van Indonesië se geofisika- en meteorologie-agentskap, gesê. Hy het ook bygevoeg dat sy agentskap nie verantwoordelik is vir die waarskuwing oor die tsoenami nie.
Die Stille Oseaan se tsoenamiwaarskuwing-sentrum in Hawaii het egter ‘n waarskuwing van ‘n moontlike tsoenami aan Indonesië, Maleisië, Indië en Thailand gestuur.
“Ons kon tot dusver geen kontak met Padang maak nie; alle kommunikasie is afgesny,” het Triyono gesê.
Die aardbewing het omstreeks 05:16 Woensdagoggend, sowat 53 kilometer noordwes van Padang en ongeveer 87 kilometer onder die aardkors plaasgevind, het die Amerikaanse Geologiese Opname gesê.
Die plaaslike televisienetwerk Metro TV het verslag gedoen oor verwoestende brande en skade in Padang, wat nagenoeg 900 000 inwoners het.
Vreesbevange inwoners het die strate glo ingehardloop toe die aardbewing plaasgevind het.
Geen sterftes of beserings is tot dusver aangemeld nie.
Geoloë het gesê Padang is die stad wat heel waarskynlik volgende getref sou word. Dit lê naby die botsende Indo-Australiese en Eurasiese tektoniese plate.
Indonesië is geleë binne die Stille Oseaan se sogenaamde Ring van Vuur, waar die wrywing van kontinentale plate vulkaniese aktiwiteit veroorsaak.
