Die reuse-aardbewing wat groot verwoesting in die Samoaanse eilande in die Stille Oseaan gesaai het, het veroorsaak dat klein tsoenami-golwe Woensdag die kuslyn van Japan, wat duisende kilometers weg is, tref.
Tsoenami-golwe van sowat 10cm het gebreek op die eilande suid van Tokio, sowel as op die noordkus van die hoofeiland Honsjoe, het die meteorologiese agentskap gesê.
Die agentskap het vroeër gewaarsku dat tsoenami-golwe van tot 50cm Japan se kuslyn kan bereik.
Ses ure nadat die waarskuwing uitgereik is, is daar gesê dat die gevaar verby is.
Die 8.0 grootte aardbewing wat Samoa en Amerikaans-Samoa getref het, het ontaard in ‘n reusetsoenami waarin sowat 53 mense dood is en dorpe verwoes is.
Japan is een van die wêreld se lande wat mees geneig is om deur aardbewings getref te word en het ‘n gespesialiseerde tsoenami-waarskuwingstelsel ontwikkel.
