Polisielede wat verlede jaar siekverlof geneem het, het die belastingbetaler meer as R500 miljoen (R536 402 000) gekos. ‘n Totaal van 1,2 miljoen (1 212 520) werksdae het hierdeur verlore gegaan.
Dit is volgens die jaarverslag van die Polisie in die tydperk vanaf 1 Januarie 2008 tot 31 Desember 2008. Siekverlof alleen het R387,711 miljoen en permanente en tydelike onbevoegdheidsverlof het R148,691 miljoen beloop.
“Wat meer kommerwekkend is, is dat die kategorie waar siekverlof die meeste voorkom by hoogs geskoolde lede is en die tweede meeste by geskoolde lede. Hoogs geskoolde lede het 645 730 dae en geskoolde lede 430 788 dae siekverlof geneem. Hierdie is juis die kategorie van lede wat misdaad moet ondersoek en is die kern van die Polisiediens.
Die syfers toon dat daar ‘n ernstige probleem is wat aandui dat Polisielede in hierdie kategorieë of oorwerk is of onder te veel druk en spanning geplaas word, het Pieter Groenewald van die Vryheidsfront Plus gesê. Deel van die druk en spanning is ook dat sommige lede nie behoorlik opgelei is vir die taak wat hulle moet verrig nie.
Die Polisie moet ‘n dringende ondersoek doen en met oplossings vorendag kom,” sê Groenewald.
Volgens die jaarverslag was 91,5% van die siekverlofdae met ‘n mediese sertifikaat en die gemiddelde aantal dae per lid was agt dae siekverlof.
