Obama waarsku Iran

Die president van die VSA, Barack Obama, het Saterdag ’n waarskuwing aan Iran gerig nadat dit bekend geword het dat dié land in die Midde-Ooste ’n tweede uraanverrykingsaanleg bou.

Obama het tydens sy weeklikse internet- en radiotoespraak gesê die Islamitiese land moet aan die wêreld bewys dat hul kernbelange vreedsaam is.

Dit het Vrydag tydens die G20-beraad aan die lig gekom dat Iran besig is om ‘n tweede uraanverrykingsaanleg te bou, het die Internasionale Atoomenergie-agentskap, IAEA, gesê.

Volgens Obama is die ontwikkeling van die aanleg, waar uraan verryk kan word om kernbomme te vervaardig, die voortsetting van ’n “kommerwekkende patroon van ontwyking” deur Iran wat die vermindering van kernbomme wêreldwyd ten nadele strek.

Die VSA-president het Iran dringend gevra om internasionale inspekteurs toegang tot die aanleg te verleen, of die gevolge te dra.

“My deur staan oop vir ’n betekenisvolle gesprek,” het Obama gesê, “maar dis nou tyd vir Iran om met die IAEA saam te werk en te wys sy kernbelange is vreedsaam.”

Iran se leiers moet besluit of hulle verantwoordelik gaan optree en deel word van die internasionale gemeenskap, het Obama voorts gesê.

Indien nie, sal Iran toenemende druk en uitsluiting trotseer wat die land se mense sal benadeel.

Die Russiese leier, Dmitri Medwedef, het tydens ’n nuuskonferensie aan Iran gevra om saam te werk.Die Chinese adjunkminister van buitelandse sake, He Yafei, het dié boodskap beaam. Die Chinese regering ondersteun egter nie sanksies teen Iran nie.

Die Midde-Oosterse land hou voet by stuk dat hul kernuitbreiding vir energiedoeleindes is, en nie wapens nie.

Iran se president, Mahmoed Ahmadinejad, het tydens ’n perskonferensie in New York gesê sy land het niks verkeerd gedoen wat betref hul kernontwikkeling nie.

Ali Akbar Salehi, die hoof van Iran se kernprojek, het gesê die aanleg sal gebruik word om uraan te verryk vir kernbrandstof.

Salehi het Saterdag aan Iran se staatstelevisie gesê daar is met die IAEA ooreengekom dat inspekteurs die aanleg, wat eers in 18 maande voltooi sal wees, sal kan besoek.

Hy het nie gesê wanneer so besoek sal plaasvind nie.

Ahmadinejad wou nie ’n vraag beantwoord rakende die land se vermoë om ’n kernwapen te vervaardig nie.

Die debat rondom Iran se kerndoelwitte oorskadu ander belangrike onderwerpe by die G20-beraad, soos die regulering van finansiële markte en klimaatsverandering.

 

free bet withoutалександр лобановский харьков

Maak 'n opvolg-bydrae