Kop op die Blok: Streepsuiker op Nuweland!

Vanmiddag, wanneer die skeidsregter sy hand vertikaal ophou en sy fluitjie blaas om die wedstryd op Nuweland te begin, vlieg dertig spelers aanmekaar, en elkeen het een aansporingsgedagte: Tuishalfeindstryd. Dan is daar net strepe waar jy kyk: Die blou op wit strepe van ‘n bastion van Suid-Afrikaanse rugby – die WP – en die groen op wit strepe van ‘n ongepoetste plattelandse span wat nie weet wanneer hulle nou maar kan ophou nie.

Die Griekwas se seisoen is gekenmerk deur hulle vermoë om groter spanne met baie meer aansien te skok. Net verlede week het hulle die Leeus se slagtande in Kimberley getrek. A… en dáár is die woord wat as die Rosettasteen vir die ontrafeling van dié naweek se konflik sal diens doen: Kimberley. Al het die Uieboere ‘n paar grotes geskaapvang weg van die huis af, doen hulle hulle beste werk in Kimberley. Dit kan bes moontlik net te ver Kaap toe wees vir hulle, maar ‘n skok is nie buite die ruim van moontlikheid nie.

Dawie Theron het ‘n span netjies aanmekaar gewerk hierdie jaar, en dit is juis die ingedrilde wyse waarop die spanmaats mekaar aanvul wat hierdie jaar se uitgawe van die Griekwas so ‘n ongemaklike proposisie vir ander spanne gemaak het. Daar is nie te veel van die huidige Griekwas-personeel wat op groot, gierige unies se inkopielys is nie. Tog verstaan spelers soos Riaan Viljoen, Naas Olivier, Sarel Pretorius en Rayno Barnes hulle plek en werk in die span uit hulle koppe uit. As die WP nie vingertrek nie, kan môre ‘n mismoedige dag vir hulle op Nuweland wees.

Tog, vingertrek, dié sal die WP. Hierdie, meer as ander spanne in die kompetisie, is ‘n eenheid wat selfvertroue nodig het om te presteer. As hulle arrogant genoeg is, en genoeg afbreekpuntballe kan wen, en sterk staan in die lynstane, kan hulle pronkperdjies in die agterlyn flink en fel toeslaan. Die vleuels, Gio Aplon, en Tonderai Chavanga, sal, as hulle geborge genoeg voel, baie sweepkrag op die aanval verskaf. En die blonde jong karwats, Joe Pietersen, kan baie venynig uit die heelagterkassie wees.

Die WP het egter ook ‘n paar onse buskruit verloor met die vertrek van hulle enigste werklike goeie slot, Chris Jack, en met Willem de Waal se besering het hulle ‘n sekere taktiese bestendigheid in die agterlyn verloor. Wat hulle wel het, is ‘n losdrietal met die vermoë om los balle op te vee, verdedigingsdruk op die teenstaanders se agterlyn te plaas en om genoeg momentum te verskaf vir die haastige agterlyn om vanaf ‘n skaflike offensief te loods.

As hierdie wedstryd in Kimberley gespeel sou word, was ‘n opskudding nie uitgesluit nie. Maar nou speel algar voor die eenogige skare van Nuweland. Daarom: WP gaan uiteindelik wen, met omtrent sewe punte.

продвижениелобановский александр игоревич класс

Maak 'n opvolg-bydrae