
Die VSA sal hulle ambassade en ander Amerikaanse regeringskantore in Suid-Afrika Woensdag gesluit hou nadat ‘n veiligheidsbedreiging geïdentifiseer is. Die aard van die bedreiging is nie bekend nie.
Woordvoerder van die ambassade Sharon Hudson-Dean het Dinsdag gesê die kantore sal moontlik weer Woensdag heropen.
Ian Kelly van die VSA se State Department sê die bedreiging is “taamlike geloofwaardige inligting” teen Amerikaanse instellings in Suid-Afrika.
Alhoewel die Wêreldsokkertoernooi aanstaande jaar hier gehou gaan word, is dit nie op sigself ‘n teiken vir aanvalle nie.
Hudson-Dean sê dit sal die eerste keer in ‘n dekade wees wat die kantore gesluit sal wees weens veiligheidsredes.
Somali-rebelle het verlede week wraak gesweer nadat een van Al-Kaida se mees gesoekte lede deur Amerikaanse spesiale magte om die lewe gebring is, maar daar is geen vorige skakel tussen Somalië en Suid-Afrika nie.
In 1998 het bomaanvalle teen Amerikaanse ambassades in Kenia en Tanzanië die lewens van 224 mense geëis en duisende gewond.
Kelly sê die situasie word noukeurig gemonitor en toepaslike stappe sal geneem word om die bedreiging die hoof te bied..
Suid-Afrikaanse polisiekommissaris Bheki Cele kon ook nie besonderhede van die bedreiging gee nie, maar het nie die moontlikheid dat dit ‘n poets is, uitgesluit nie.
Hy het aan verslaggewers in Kaapstad gesê “Dis onder beheer.”
‘n Boodskap van die ambassade het Amerikaanse burgers gewaarsku dat Al-Kaida en verwante organisasies soos op 29 Julie terreuraanvalle op Amerikaanse belange in Europe, Asië, Afrika, Midde-Ooste beplan.
Die VSA se konsulate in Johannesburg, Durban en Kaapstad en ander regeringskantore wat USAID, die Agency for International Development, insluit, sal ook gesluit wees.
