Cosatu vaar uit teen Manuel

Cosatu is gekant teen ‘n minister van beplanning, het Zwelinzima Vavi, hoofsekretaris, Dinsdag gesê.

Vavi sê die magte van Trevor Manuel, minister in die presidensie, is te groot en daar is voorheen ooreengekom dat Manuel slegs ‘n koördinerende funksie sal hê.

Cosatu is daarom gekant teen Manuel se groenskrif vir nasionale beplanning wat van hom ’n superminister maak aan wie Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling, ondergeskik gaan wees.

Cosatu het ’n striemende aanval op Manuel gedoen by sy 10de nasionale kongres in Midrand.

“Die ooreenkoms was dat ’n nasionale beplanningskommissie deur die presidensie geskep sal word. Die doelwit daarmee sou wees om seker te maak dat die doelwitte van ’n ontwikkelingstaat nagestreef word. Daar sou geen minister van nasionale beplanning wees nie – net ’n minister in die presidensie wat vir die nasionale beplanningskommissie verantwoordelik is,” het Vavi gesê.

Volgens hom bevat die groenskrif “ ’n strukturele probleem en swakheid” en moet Cosatu dit beveg want dit maak Manuel tweede in bevel ná die president.

Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het Cosatu daarop gewys dat Manuel se bevoegdhede glad nie verskil van die doelwitte van die nasionale beplanningskommissie nie.

In Oktober verlede jaar is tussen die ANC-alliansievennote ooreengekom dat “die kommissie die mag sal hê om die werk van alle staatsdepartemente in die pas te bring met die regering se ontwikkelingsagenda”.

Cosatu se hoofsekretaris het egter skerp daarop gereageer en gesê daar is in Polokwane anders ooreengekom. Hy is deur die afgevaardigdes toegejuig.

Hy het gesê wat in die groenskrif staan, moet eers “getoets” word vir aanvaarbaarheid by die alliansie.

“Aan die ander kant het pres. Jacob Zuma ’n mandaat aan die minister van ekonomiese ontwikkeling gegee om ekonomiese beleid te hanteer, met ’n eie ministerie en staatsdepartement. Hy moet onder meer ook na makro- en mikro- ekonomiese ontwikkelingsbeplanning omsien,” het Vavi in antwoord aan Mantashe gesê.

Zuma het Maandag by die kongres aan afgevaardigdes gesê dat daar in Oktober 2008 ooreengekom is dat daar ‘n behoefte vir hoëvlakbeplanning bestaan asook om die kapasiteit van die regering te monitor.

 

набор ниндзя купитьДанильченко

Maak 'n opvolg-bydrae