Deskundiges by die wêreld se kernwaghond is dit eens dat Teheran die vermoë het om 'n atoombom te vervaardig en die land is oppad daarna om 'n missielstelsel te ontwikkel wat 'n kernkop sal kan dra, volgens 'n geheime verslag wat aan Associated Press gelek is.
Die dokument is deur senior amptenare van die Internasionale Atoomenergieagentskap, die IAEA, opgestel en is die duidelikste aanduiding tot nog toe dat die Agentskap Washington se siening oor Iran se wapenvervaardigingsvermoë deel.
Dit blyk die sogenaamde "geheime anneks" te wees oor Iran se kernprogram wat volgens Washington deur die IAEA se hoof teruggehou word.
Die dokument beweer dat Iran "genoeg inligting" het om 'n bom te bou. Iran is ook by magte om "probleme te oorkom" wat die ontwikkeling van 'n missielgeleidingstelsel betref.
