Eerste Nasionale Bank (ENB) se beleggers bestaan grotendeels uit jong swartmense, het die bank Maandag bekend gemaak.
”Die profiel van die beleggingsgemeenskap verander vinnig met jong en opgeleide swartmense wat die leiding neem,” het die bank in ’n verklaring gesê.
Dit is ’n positiewe stap vir Suid-Afrika aangesien die land poog om ’n spaarkultuur onder sy burgers te probeer stimuleer, het ENB gesê.
Die ENB spaar-/beleggingsboek het getoon dat swart mense voorloop met 57%, wit mense met 28%, Indiërs met 8% en bruin mense met 7%.
Die gemiddelde ouderdom van beleggers is nou 40, in vergelyking met 50 in 2003 toe wit mense die voortou geneem het met 50%, het ENB gesê.
“Swart mense is die jongste beleggingsgroep met ’n gemiddelde ouderdom van tussen 25 en 34 jaar en hulle het meer opleiding as hul wit eweknieë,” het ENB gesê.
Die styging in die aantal mense wat belê, is ’n resultaat van mense wat besef hulle moet spaar, het Robert Keip, hoof van beleggings by ENB, gesê.
“Die navorsing wys dat aftrede die grootste spaarprioriteit vir alle inkomstegroepe is.
“Ongeag die styging van mense wat vir aftrede spaar, toon baie opnames dat slegs 6% van Suid-Afrikaners genoeg geld spaar vir hul aftrede,” het hy gesê.
