Die Bulle het toe mooi saamgewerk om my voorspelling waar te maak. Waarop hulle ook al deur die week gewei het, dit het blykbaar bloedsuikerimplikasies gehad. Hulle was net ‘n tree te stadig, net ‘n newton-meter te flou, om hulle spelpatroon op die Leeus af te druk. Die Ander Span op die Veld, daardie katspesie, daarenteen, het blykbaar suiwer adrenalien op hulle pap geëet. Kon ook nie anders nie. Daar is ‘n dowwe lyn tussen sukses, enige sukses, en ‘n korporatiewe massavuurpeloton vir die Leeus. Om ‘n span te sien herrys, is altyd ‘n belewenis, maar die Leeus het skynbaar in die roet en as vasgesteek. Hulle is al vir die afgelope tien jaar besig om te verrys en het nog nie hoër as kniehoogte gevorder nie. Om te keer dat die span van 1-15 voor die voet gesnoei word, is dit nodig dat hulle ten minste een wedstryd per jaar teen alle verwagting in wen. Gister was dit sulke tyd.
Die Leeus het die wedstryd 20-13 gewen het, en het dit met soveel oortuiging gedoen dat dit die Bulle is wat gelukkig geag is met die hoeveelheid punte wat hulle verkry het. Gister het weer bewys dat die ou Noord-Transvaal/Blou Bul-wedstrydresep ontroefbaar is… die ironie synde dat dit die Leeus was wat die skop-skrum-en-stormtaktieke suksesvol uitgestal het. Daarmee het hulle twee drieë gekonstrueer en dit was hulle ononderdrukbare skrumskakel, Jano Vermaak, wat ‘n – kug! – Leeue-aandeel in beide gehad het.
Eers het hy ter ondersteuning van ‘n stoomrollende Hans van Dyk opgestorm, die bal gekry, gedra en netjies aan Alwyn Hollenbach besorg wat die kalk oorgesteek het. Die tweede drie het Vermaak sommer self gedruk nadat hy ‘n steekskoppie van Franco van der Merwe agternagesit het. Herkie Kruger het die res van die punte met sy skoen gemunt.
Die Blou Bulle het dinge op hulle nimlike kruiptrekkermanier probeer doen en dit by tye selfs reggekry… maar nie vir lank genoeg aanmekaar nie. Dit het die Leeus telkens toegelaat om die juk af te gooi en uit hulle kwartgebied te breek.
Reg teen die einde het die Blou Bulle ‘n verdoelde Jaco Pretorius-drie en ‘n Burton Francis-strafdoel bygevoeg en daarmee ‘n bonuspunt ingeskryf.
Een van die dae is die Springbokke terug in hulle provinsies en sal sinvolheid terugkeer na ons rugbyuniversum. Elke span sal sy plek weer gedwee inneem. En vir die Leeus beteken dit hulle sal, weereens, soos altyd, tekens van ‘n herrysenis toon.
En die Blou Bulle? ‘n Goeie drag slae, soos vir ‘n stout seuntjie, doen hulle elke jaar net goed. Nou het hulle hulle s’n vir die seisoen gehad. Met Matfield, Du Preez, Bakkies Botha en Habana binnekort terug vir die betekenisvolle gedeelte van die Curriebekerseisoen, sal hulle maar weer doen wat hulle doen. Hierdie jaar sal hulle weer die Curriebeker wen. Dís wat hulle doen.
