Hoë oliepryse as gevolg van die nypende tekorte kan ekonomiese herstel van koers af dwing sê dr Fatih Birol, hoofekonoom van die Internasionale Energieagentskap (IEA) in Parys. Die Agentskap bepaal die toekomstige behoeftes van ontwikkelde lande.
Dr Birol sê dit lyk asof die publiek en talle regerings nie die erns besef nie. Die moderne samelewing se bestaan hang van olie af en olie is besig om vinniger minder te raak as wat voorheen voorspel is. Globale produksie gaan oor tien jaar 'n hoogtepunt bereik en daarna afplat, tien jaar vroeër as wat regerings beraam het.
Die eerste gedetaillerde studie van meer as 800 olievelde wêreldwyd, wat meer as 'n driekwart van die wêreldreserwes hou, het bevind dat die grootste velde reeds verby hulle beste uitsette is en dat die afnamekoers twee keer vinniger is as wat twee jaar gelede bereken is.
Daarbenewens is daar die probleem van kroniese onderinvestering deur olieproduserende lande wat binne die volgende vyf jaar in 'n drastiese olieknyp gaan manifesteer.
Birol het gewaarsku dat die markkrag van veral die Midde-Ooste dramaties gaan toeneem as die oliekrisis in 2010 'n greep op die Weste kry. Hulle oliemarkaandeel van 40% gaan nog verder groei.
Hy het gesê olie gaan verdwyn en dat mense moet voorberei vir daardie dag en die gevolge baie as ernstig sal moet beskou.
Die IEA sê die jaarlikse afplattingskoers in produksie wat in 2007 as 3,7 aangedui is, is verkeerd en dit behoort 6,7% te wees. Die huidige verbruik is dus onvolhoubaar en die era van goedkoop olie is vir goed verby.
Die wêreld gaan ses olielande soos Saoedie-Arabië nodig hê teen die huidige koers van verbruik teen 2030.
Geopolitiek gaan beslis daardeur geraak word. Birol sê alhoewel sekere lande besef olie gaan opraak, het hulle geen benul van die werklike implikasies wat wag nie.
Ontginning van die reusagtige vuil teerolievelde in Alberta, Kanada, kan geweldige omgewingskade bring en die kweekhuiseffek vererger, sê hy.
