Brandstofolie net so waardevol soos ruolie

Vir die eerste keer in ses jaar is brandstofolie – wat oorbly as petrol en diesel uit ruolie geraffineer is – net so waardevol soos ruolie.

Dit beteken skeepsrederye, wat brandstofolie gebruik, moet nou baie meer vir hulle brandstof betaal – en dít in ’n ekonomiese afplatting weens die internasionale finansiële krisis. Die prys van brandstofolie het vanjaar in Singapoer tot $66,47 per vat verdubbel.

Die rede vir die styging is dat die produksie van brandstofolie by raffinaderye in die ontwikkelde wêreld teen April 18% laer was as ’n jaar gelede, volgens die Internasionale Energie-agentskap.

Nuwe raffinaderye word toenemend ontwerp om minder brandstofolie te vervaardig en meer hoëwaarde-produkte soos petrol en diesel.

Die prysstyging knou skeepsrederye soos Frontlike en A.P. Möller-Maersk terwyl ExxonMobil en Reliance, eienaars van die grootste raffinaderye in die VSA en Asië, glimlag omdat hulle nou beter pryse kry vir ’n produk wat voorheen as ’n afvalproduk beskou is.

Frontline is die wêreld se grootste bestuurder van olietenkskepe en het skeepskapteins gevra om stadiger te vaar om brandstof te bespaar, het Jens Martin Jensen, uitvoerende hoof van Frontline, gesê. Die gemiddelde olietenkskip verbruik sowat $40 000 se brandstof per dag. Brandstofpryse vir skepe wat styg, plaas dit druk op die winssyfers en dit maak sin om stadiger te vaar, sê Jensen.

Raffinaderye produseer in die algemeen minder brandstof weens die internasionale resessie. Opullande (Organisasie van Petroleum-uitvoerlande) beperk boonop die verkope van laegehalte-ruolie wat goedkoper is.

Die voorraad brandstofolie in Singapoer, die grootste handelsentrum in Asië waar die meeste skepe brandstof ingooi, het verlede week tot 14,1 miljoen vate gedaal. Dit is 19% minder as die gemiddelde vlak die afgelope twee jaar. Voorraad in die hawens van Europa is 24% laer as ’n jaar gelede.

Die skeepsredery Maersk sê die dalende vraag na vragdienste beperk sy vermoë om brandstofkoste aan kliënte deur te gee

курна для хамама ценаалександр лобановский класс

Maak 'n opvolg-bydrae