Mnr. Neels van Rooyen, ANC-wetgewerlid, het tydens Maandag 29 Junie 2009 se wetgewersitting in ’n mosie gesê dat die nuwe rektor van die UV, prof. Jonathan Jansen, die UV moet transformeer en dat die ANC-regering nie sal huiwer om in te gryp as transformasie aan die UV nie na wense is nie.
Die UV se hoofkampus het 27157 geregistreerde studente en van hierdie studente is 17679 (65%) swart en 15689 (57%) vroulik. Indien die studente-getalle van die QwaQwa- en Vista-kampusse in berekening gebring word, is die verhouding swart-wit nog groter. Verder is koshuise aan die UV vanaf 2008 drasties getransformeer en het die tradisioneel wit koshuise ’n integrasiesyfer van nagenoeg 30%, terwyl tradisioneel swart koshuise onder die 1% geïntegreer is.
“Dit is kommerwekkend dat die ANC-regering se klem steeds so drasties op rasse-integrasie en transformasie is,” het Oosthuizen gesê. Die ANC se klem moet eerder na die verbetering van akademiese standaarde verskuif.
Die VF Plus waarsku prof. Jansen om nie soos sy voorgangers onder hierdie politieke druk te swig nie, maar eerder te fokus op die uitbou van die UV as ‘n instituut van uitnemendheid. “Dit blyk dat die ANC nooit tevrede gaan wees totdat die getal wit studente aan tersiêre instellings absoluut gering is nie en Afrikaans heeltemal as onderrigtaal verdwyn nie,” het Oosthuizen bygevoeg.
