Die Irakse premier, Noeri al-Maliki, het in ’n toespraak op nasionale televisie gesê dit is ’n dag van nasionale feesviering wat deur alle Irakiërs moontlik gemaak is. Hy het die dag tot ’n nasionale vakansiedag verklaar.
“Diegene wat dink dat die Irakiërs nie daartoe in staat is om hul eie land te verdedig nie, maak ’n fatale fout,” het hy gesê.
’n Motorbomaanval in Kirkoek in die noorde van die land het gister minstens 25 lewens geëis en 40 gewond. Die stad word beskou as ’n moontlike vlampunt tussen die Sjiïties-geleide sentrale regering en Koerde.
Die Amerikaanse leër het ook aangekondig vier Amerikaanse soldate van die multinasionale Bagdad-afdeling is dood aan aanvalsverwante beserings. Geen verdere inligting oor die voorval is bekend gemaak nie.
Die voorvalle is nog grusame herinneringe aan die sesjarige oorlog wat in 2003 deur die Amerikaners in die land begin is.
Teen gisteraand om middernag moes alle Amerikaanse gevegstroepe uit die stedelike gebiede onttrek het na basisse in landelike dele, volgens die bepalings van die verdrag oor die onttrekking van alle Amerikaanse troepe uit die land teen die einde van 2011.
Die laaste gevegstroepe in Bagdad het Maandag onttrek na twee groot basisse naby die hoofstad se lughawe, terwyl die onttrekking gister elders voortgegaan het. Sommige troepe, belas met opleiding en adviserende hoedanighede, is steeds op hul pos.
’n Pentagon-woordvoerder het gesê die Verenigde State het 120 basisse gesluit of die beheer daarvan oorgedra aan plaaslike magte. Nog 30 sou teen gister om middernag oorhandig of gesluit word.
