Maar geen gevolgtrekking oor die oorsaak van die ramp kan nog gemaak word nie.
“As ons ’n gevolgtrekking oor iets gemaak het of iets uitgesluit het, sou ons julle laat weet het,” het mnr. Paul-Louis Arslanian, hoof van die Franse vliegongelukondersoekagentskap BEA, gesê.
Hy was “effens meer optimisties” dat leidrade van wat presies tot die ongeluk gelei het, gevind sal word. Hy het gesê nog wrakstukke wat opgespoor is, verklein die soekgebied tot Brasilië se noordoostelike kusgebied.
Die Air France Airbus A330 het op 31 Mei met 228 mense aan boord in die see gestort nadat dit donderstorms moes trotseer op die vlug van Rio de Janeiro na Parys.
Arslanian het gesê meer as 400 wrakstukke is gevind en word in ’n vliegtuigloods in Recife, Brasilië, gehou. Die stukke kom van “alle gedeeltes” van die vliegtuig, maar hy het nie besonderhede gegee nie.
Die vliegtuig se twee vlugopnemers met vlugdata is nog nie gevind nie en is vermoedelik diep onder die see.
