Obama reik na gematigde Moslems uit

Image

Barack Obama in Egipte

Barack Obama het Donderdag ’n pleidooi gelewer dat die Palestyne se daaglikse vernederinge, klein en groot, wat hulle vanweë Israelse besetting ervaar, beëindig moet word. Sy hardste woorde het hy aan Israel gerig en twee keer na "Palestina" verwys op 'n manier wat dit as 'n onafhanklike entiteit teenoor Israel stel.

Obama het op die kampus van die Universiteit van Kaïro in Egipte gepraat en gevra vir ’n nuwe begin in betrekkinge tussen Amerika en die Moslemwêreld. Hy het Amerika se historiese verhouding met Israel uitgelig en gesê die band tussen sy land en Israel is "onbreekbaar".

“Ek het hierheen gekom om ’n nuwe begin te soek tussen Amerika en Moslems die wêreld oor, wat berus op wedersydse belange en wedersydse respek," het hy gesê.

Die Amerikaanse president se toespraak het 55 minute geduur en hy het herhaaldelik uit die Koran aangehaal en ook Arabies tussendeur gepraat. Daar was ook verwysings na die Bybel en die Torah. Obama het die verskille wat onder Moslems heers, beklemtoon deur na die onverdraagsaamheid tusssen Soennies en Sjiïete te verwys.

Hy het voorts gesê: “Amerika en Islam is nie eksklusief nie en hoef nie te kompeteer nie. Ons deel gemeenskaplike beginsels van geregtigheid en vordering, verdraagsaamheid en waardigheid vir alle mense.”

Obama het gepraat oor die nalatenskap van die 9/11-aanvalle en die gevaar wat ekstremisme in al sy vorme inhou, maar het nooit die woorde "terreur" of "terroris" gebruik nie. Hy het ook op vroueregte, godsdiensvryheid en demokrasie gewys wat duidelik gemik was op die meer verdraagsame Moslems en het daardeur 'n wig probeer dryf tussen gematigdes en fundementaliste.

“Ons dogters kan net soveel bydra tot die samelewing as ons seuns . . . Ek respekteer vroue wat kies om hulle lewe in tradisionele rolle te lei. Maar dit moet hul keuse wees.”

Oor godsdiensvryheid het Obama gesê: “Onder sommige Moslems is daar ’n verontrustende neiging om ’n mens se geloof te meet aan die verwerping van ander (gelowe). Die rykheid van godsdienstige verskeidenheid moet in stand gehou word.”

Die president van die VSA het slegs na die militante Hamas, wat in Gasa die verkiesing van 2006 gewen het, in sy rede verwys en nie na Fatah, die party wat deur die Palestynse president Magmoed Abbas gelei word nie. Hamas is 'n gehate organisasie in Israel.

Joodse groepe het die vergelyking wat tussen die Palestyne se stryd en die Brandoffer gemaak is, skerp gekritiseer en gesê dit kan nie vergelyk word nie.

Alhoewel sy toespraak al die uitdagings belig het, het die Amerikaanse president geen besonderhede gegee van hoe die wêreld se probleme opgelos behoort te word nie, en het slegs sy eie biografie aangebied as geloofwaardige skakel tussen onderskeie botsende kulture.

Obama besoek vandag Buchenwald in Duitsland, waar Jode in die Tweede Wêreldoorlog gemartel en vermoor is. Hy het gepleit vir ’n kernwapenvrye wêreld, maar gesê Iran het die reg om kernkrag vir vreedsame doeleindes te ontwikkel.

'n Hisbollalid in Libanon, mnr. Hassan Fadlallah, het gesê: “Die Islamitiese wêreld het nie morele of politieke preke nodig nie. Dit het ’n fundamentele verandering in VSA-beleid nodig.”

Die Europese Unie se buitelandse beleidshoof, mnr. Javier Solana, het gesê dit was ’n merkwaardige toespraak wat ’n nuwe hoofstuk in betrekkinge met die Arabiese Moslemwêreld inlui.

slots to play onlineФильчаков прокуратура харьков

Maak 'n opvolg-bydrae