Die VF Plus was ‘n betroubare staatmaker in die veelparty-koalisie sedert die samekoms van die verskillende opposisiepartye in die Metroraad na die 2006 plaaslike owerheidsverkiesing. Die DA en ander koalisievennote kon deurlopend op die VF Plus se steun staatmaak.
“Daar was reeds ‘n vaste ooreenkoms en onderneming deur premier Helen Zille dat die VF Plus deel van die Stad Kaapstad se veelparty-koalisie sou bly. Daardie ooreenkoms en onderneming is nou eensydig deur die DA en me. Zille verbreek. Die VF Plus sal more, Dinsdag 2 Junie om 12:00 tydens ‘n mediakonferensie in Kamer M529, Marksgebou in die parlementêre kompleks, die nodige dokumentasie wat betrekking het op hierdie ooreenkoms en me. Zille se onderneming in hierdie verband bekend maak”, het dr. Mulder gesê.
Met hierdie stap van die DA, is die totstandkoming van ‘n breë opposisiefront ‘n terugslag gegee. Dit blyk ook toenemend duidelik te wees dat die DA nie in veelparty-demokrasie glo nie.
