Obama se samesprekings met Abbas kom tien dae nadat hy die Israelse premier, Benyamin Netanyahu, ontvang het.
Israel het die Amerikaanse regering se jongste pleidooi dat die Joodse staat die bou van nedersettings staak, verwerp. Netanyahu en die Amerikaanse regering sit steeds vas oor ’n strategie vir vrede.
In ’n poging om die vredesproses weer aan die gang te kry, het Obama dit duidelik gemaak dat hy sal aanhou om druk op Netanyahu te plaas vir die algehele staking van die oprigting van Joodse nedersettings in die besette Wesoewergebied en dat hy die totstandkoming van ’n Palestynse staat nastreef.
“Ons kan nie meer talm nie . . . Ons moet hierdie ding weer op dreef kry,” het Obama Donderdag aan verslaggewers gesê terwyl Abbas, ’n Westers-gesteunde gematigde wat verswak word deur die meer onversetlike Hamas se beheer van die Gasastrook, langs hom in die Ovaalkantoor gesit het.
Obama het benadruk Israel se verpligtinge ingevolge die “padkaart” vir Midde-Oosterse vrede sluit die staking van Isreali vestings in, asook om te verseker dat daar ’n lewensvatbare Palestynse staat kom. Hy het gesê Palestyne moet meer doen om hul veiligheidsmagte te versterk en die anti-Israelse “opsweping” wat hy meen soms in skole en moskees voorkom, te bekamp.
Met sy eerste besoek aan Washington sedert Obama in Januarie aan die bewind gekom het, sou Abbas na verwagting redes aanvoer waarom die VSA ’n strenger houding teenoor Netanyahu moet inneem. Die Israelse premier lei ’n regsgesinde koalisie met kernpartye wat ten gunste van die setlaars is.
Netanyahu se regering het Donderdag Hillary Clinton, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, se reguit opmerking dat alle nedersetting moet ophou, verwerp.
Beleidsverskille het seldsame onenigheid tussen die VSA en Israel aan die lig gebring, maar dit bly onduidelik hoe hard Obama bereid is om die Joodse staat te druk om toegewings te maak terwyl sy administrasie sy Midde-Oosterse strategie finaliseer.
