Suid-Koreaanse magte het hule gereedheidsgrondslag Donderdag tot die hoogste vlak opgeskuif sedert 2006 nadat Noord-Korea aangekondig het hulle alle vaartuie wat hulle skepe wil onderskep, sal aanval.
In antwoord het Suid-Korea aangekondig dat hulle by die 90 lande wat aangebied het om vaartuie te inspekteer omdat hulle moontlik verbode wapens dra, sal aansluit.
Noord-Korea het aangedui dat die Suide se deelname aan die VSA se Proliferasie Veiligheidsinisiatief, 'n prelude is tot 'n seeblokkade en dat dit die vooruitsig van 'n seegeveg in sy westelike waters sal verhoog.
Die Noorde het Woensdag aangekondig dat hulle die wapenstilstand van 1953, die einde van die Koreaanse Oorlog, sal ophef. Die amptelike media het Donderdag laat blyk dat hulle voorberei op 'n Amerikaanse aanval.
Die VSA ontken dat hulle 'n militêre aanval beplan. Die Rodong Sinmun-koerant, die hoof nuusbron in die Noorde, het in 'n hoofberig gesê dat 'n toevallige skermutseling tot 'n kernoorlog kan lei.
Die twee Koreas verkeer tegnies steeds in 'n staat van oorlog aangesien die wapenstilstand nooit deur 'n vredesverdrag opgevolg is nie.
Daar is tans 28 500 Amerikaanse troepe in Suid-Korea en 50 000 in Japan. Hulle is binne bereik van Noord-Korea se missiele. 'n Woordvoerder van die Suid-Koreaanse magte, wat anoniem gebly het soos regeringsriglyne vereis, het gesê hulle het lugafweermissiele en artillerie opgeskerp by basisse naby die westelike seegrens met Noord-Korea.
'n Torpedojaer is ook ontplooi volgens die JoongAng Ilbokoerant, die grootste nuusbron in die Suide. Die Suide het aangedui dat hulle streng teen die Noorde se provokasie sal optree en het gesê tesame met die VSA sal hulle 'n aanval kan afweer.
Noord-Korea het in 2003 en 2006 ook die wapenstilstand opgehef. Die wapenstilstand dek egter nie die westelike kus nie en Noord-Korea het in 1999 en 2002 die maritieme dispuut gebruik om twee dodelike seeaanvalle uit te lok.
Hillary Rodham Clinton het reeds gewaarsku dat daar "gevolge" sal wees maar dit is steeds onduidelik watter optrede die Veiligheidsraad beplan. Die vyf permanente Veiligheidsraadlidlande asook Japan en Suid-Korea het Dinsdag moontlike sanksies en stappe bespreek vir 'n nuwe Veiligheidsraadresolusie.
'n Diplomaat wat by die gesprekke betrokke is maar wat anoniem wou bly, het aangedui dat Rusland en China dit eens is dat stappe geneem sal moet word.
Japan se eerste minister Taro Aso het gesê Japan mag dalk hulle eie sanksies instel, maar sal wag om te sien wat die inhoud van die VN se voorstelle is.
