Onder die nuwe plan sal Chinese motorvervaardigers brandstofverbruik met 18% moet verbeter teen 2015 het 'n hoofbeplanner van China se brandstofbesparingsmaatreëls aangedui. Die plan sal vroeg volgende jaar bekend gestel word.
Die gemiddelde brandstofverbruik van gesinsmotors is aansienlik laer as in die VSA, omdat belastings wat op inhoudsmaat gehef word, veroorsaak dat mense kleiner voertuie aanskaf.
Klein motortjies betaal tans slegs 1% aan verkoopsbelasting, terwyl viertrekmotors 40% moet opdok.
Talle besluitnemers in China sien 'n strategiese en geopolitieke behoefte om China se olie-invoere te beperk. Verhoogde aanvraag beteken reeds dat China drie-vyfdes van hulle olie moet invoer, waar die land tot 1995 selfvoorsienend was.
Die olie word daarbenewens langs seeroetes vervoer wat deur die VSA se vloot beheer word en is afkomstig uit lande wat polities onstabiel is. Dan is daar ook die kwessie van besoedeling en dat China moet help om aardverwarming te beheer met behulp van strenger brandstofbesparingsmaatreëls.
Die details van China se nuwe plan gaan Chinese motorvervaardigers bevoordeel bo multinasionale vervaardigers, sê kenners. In die segmente waar multinasionale vervaardigers teenwoordig is, naamlik in die middelslag en klein sektor, gaan die nuwe bepalings tot 26% se brandstofbesparing vereis. In die heel klein voertuigmark waar China uitblink, gaan net 9% vereis word aan besparing.
Kenners meen Japannese, Koreaanse en Duitse motorvervaardigers gaan waarskynlik oorweeg om die heel klein mark te betree indien hulle sukkel om aan die nuwe standaarde te voldoen.
