Silvio Berlusconi, die Italiaanse eerste minister, is skerp gekritiseer deur die Katolieke kerk sowel as linkse partye omdat hy verklaar het dat Italië nie 'n multi-etniese gemeenskap is of behoort te wees nie.
Hy het Libië dië week geprys omdat hulle 500 migrante teruggeneem het wat deur Italiaanse vaartuie oor die afgelope vyf dae opgepik is onder 'n nuwe Italiaans-Libiese ooreenkoms.
"Die linkses se idee van 'n multi-etniese Italië is nie ons s'n nie. Ons idee is om slegs diegene te verwelkom wat die aan die kriteria van politieke asiel voldoen," het hy tydens 'n nuuskonferensie gesê.
Alhoewel Italië self 'n land van immigrante is, is die land die afklimplek vir desperate en arm inwoners van Afrika en Asië en ander migrante wat Europa wil binnekom. Die linkse opposisie het Berlusconi se aanmerkings as rassisties bestempel.
Dario Franceschini, leier van die Demokratiese party, die grootste opposisieparty, het gesê dis nie vir hom of Berlusconi om te besluit nie. "Hierdie is die eeu van multi-etniese gemeenskappe. Frankryk, Groot-Brittanje en Duitsland is Europese lande met baie meer immigrante as ons en hulle werk vir integrasie."
Die sekretaris van die Italiaanse Biskoppe, Mariano Crociata, het multikulturalisme verdedig as 'n "waarde" wat reeds in Italië bestaan. Die anti-immigranteparty, die Noordelike Liga, wat deel vorm van Berlusconi se koalisie en binnelandse sake beheer, het die onderskepping en deportasie van die migrante verwelkom en gesê dit verteenwoordig 'n "rewolusionêre verskil van die verlede".
Verlede week het die Liga 'n beroering veroorsaak toe hulle voorgestel het dat die Milaanse metro slegs deur Milannese gebruik behoort te word. Hulle het later egter laat blyk dat die voorstel nie ernstig bedoel was nie.
