Noord-Korea het Dinsdag gesê hulle sien gesprekke oor die beëindiging van hul kernwapenprogram as sinloos en beplan om ‘n aanleg vir die vervaardiging van wapenkwaliteitplutonium weer oop te maak, het die staatsmedia die minister van buitelandse sake aangehaal.
Noord-Korea het meer as ‘n jaar gelede begin om sy Sowjet-era Jongbyon-kernaanleg uitmekaar te haal as deel van ‘n ontwapeningsinisiatief vir hulp wat met Sjina, Japan, Rusland, Suid-Korea en Amerika ooreengekom is.
Die stappe behoort in totaal sowat ‘n jaar te neem om om te keer, maar kenners waarsku dat die Noorde die aanleg weer aan die gang kan hê in so min as drie maande.
Die Noorde, wat genoeg plutonium het vir 6 tot 8 atoombomme, kan waarskynlik genoeg materiaal vervaardig vir nog een bom, het kenners gesê.
Die kommentaar het gekom in reaksie van die Veiligheidsraad se eenparige verdoeming van Noord-Korea se langafstandmissieltoets twee weke gelede.
