Helen Zille, DA-leier, het Woensdag kritici van haar danspassies betig deur te sê dat sing en dans deel is van Suid-Afrika se kultuur. Sy het nie gesê watter kultuur nie. Die Britte is nie bekend vir dansende politici nie.
"Sommige mense sê vir my 'mev. Zille jy behoort nie te dans nie, dis nie jou styl nie'," het sy aan haar ondersteuners tydens 'n verkiesingsbyeenkoms in die Karoo gesê.
"Een dame het my met Margaret Thatcher vergelyk. Sy het gesê dat die Ystervrou nooit sou oorweeg om so te dans nie."
Maar Zille, wie se gerondspringery gereeld 'n verleentheid is om te aanskou wanneer dit op die kassie se nuus uitgesaai word, sê sy moet doen wat sy moet doen omdat mense rondom haar dans.
"Moet ek nou stokstyf staan en sê nee dankie ek wil nie dans nie? Sing en dans is deel van ons kultuur."
Die ANC se jeugligaleier, Julius Malema, nog een van Zille se danskritici, sê sy herinner hom aan 'n apartheidspioen as sy so dans.
Zille het Woensdag saam met haar ondersteuners in die Noord-Kaap anti-ANC liedjies gesing. Televisiekykers kan nog danspassies en sang van die DA-leier te wagte wees voor stemdag op 22 April.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.