Die Obama-administrasie het jare se Amerikaanse beleid omgekeer deur te vra vir 'n ooreenkoms om kwikbesoedeling, wat volgens hulle die wêreld se grootste chemiese probleem is, te verminder.
Sowat 6,000 ton kwik word in die omgewing vrygestel elke jaar, waarvan omtrent 'n derde deur kragstasies en steenkoolvure veroorsaak word. Baie kwik land in die oseane, waar dit in die voedselketting beland en gekonsentreerd is in roofvis soos tuna.
Kinders en fetusse is veral kwesbaar vir die giftige metaal, wat geboortedefekte kan veroorsaak, asook breinskade en vel wat afskilfer.
Die verklaring verteenwoordig 'n "180-grade ommeswaai" van beleid van die Bush administrasie, het Michael Bender, koordineerder van die Zero Murcury Working Group, 'n globale koalisie van 75 omgewingsorganisasies wat werk om kwikblootstelling te verminder, gesê.
Kwik is ook wydverspreid in chemiese vervaardiging en kleinskaalmynbedrywighede. Die gif kan duisende myle deur die lug en water beweeg.
Kaliforniese owerhede is gewikkel in 'n 5-jaar stryd om tunamaatskappye te dwing om waarskuwingsetikette op hulle produkte te sit wat waarsku teen potensieel gevaarlike kwikvlakke.
Daar is selfs minder bewustheid in ontwikkelende lande, waar kleinskaalmyners kwik gebruik om goud te ontgin en vissermanne besmette vis eet of dit verkoop aan modieuse soesjie-restaurante.
Terwyl daar plaasvervangers is vir byna alle industriële prosesse wat kwik vereis, is meer as 50% van kwik afkomstig van steenkoolaangedrewekragstasies, wat die pogings om dit te reguleer moeiliker maak in lande wat staatmaak op steenkool vir krag.
