Die wapens wat vertoon word is alles tuisgemaak. Dit sluit jagmesse, lanse wat gemaak word van stokke met metaal punte tot langloophaelgewere in.
Vir dekades lank het mense in die Kongolese dorp gewere gemaak. Maar die industrie het 'n winsgewende besigheid geword omdat mense in die afgeleë noordoostelike gebied hulleself begin bewapen het teen die rebellemag van die Lord's Resistance Army (LRA).
In die dorp wat deur vlugtelinge oorstroom word na aanvalle op nabygeleë dorpies, maak meesterwapensmid Jules Zunga gewere vir reeds amper 50 jaar.
In die skaduwee van 'n mangoboom waarvan groen vrugte afval gebruik hy 'n panga, saag en mes om die kolf van 'n geweer te maak van 'n stuk hout. Soos wat dit 'n bekende vorm aanneem kerf hy 'n gleuf om die pyp in te pas wat die loop van die wapen sal word.
Die hout kom uit die omringende woud, die metaalpype kom van 'n projek om water uit die rivier te kanaliseer. Die projek is nooit voltooi nie.
Zunga se gewere verkoop vir $30 tot $40 stuk. 'n Tweedehandse geweer, soos die ou Browning wat oor die skouer van 'n boer, Benoit Kumbongwa, hang, kos omtrent $100.
Die moeilikste deel, volgens Zunga , is om die snellermeganisme te smee.
"Daardie jong manne dink dat enige iemand dit kan doen. Maar as mens dit verkeerd kry, kan die loop ontplof as mens probeer om te skiet, en ons het heel paar sulke ongelukke gehad," het hy gesê.
Baie meer ongelukke gebeur wanneer mense koeëls maak. 'n Lid van die dorp se verdedigingsmag, wat twee keer rebelleaanvalle afgeweer het, hou 'n hand in die lug wat wys dat die helfte van sy tweede vinger afgeskiet is.
Joseph Anidauwe, 'n gesondheidswerker, sê dit het gebeur toe hy swael van 'n vuurhoutjiekop na die brons punt van 'n koeël oorgedra het.
Mense gebruik leë doppies om koeëls te maak. Hulle versamel die metaal van gebruikte batterye en kap dit in stukkies op. Die stukkies word in die doppies ingedruk, wat dan met droeë gras opgevul word, waarna 'n slagdoppie opgesit word. Swael word gebruik om die ontploffing aan te help wanneer die koeël die loop van die geweer verlaat.
Anidauwe het gesê die dorp se inwoners het sulke spesialiste geword in die kuns, "dat ons 'n ammunisiefabriek van ons eie kan opsit."
