Die voormalige Suid-Afrikaanse president Thabo Mbeki sal die insweringseremonie van eerste minister Morgan Tsvangirai en sy adjunk Arthur Mutambura in Zimbabwe bywoon. Dit sal 'n historiese oomblik in Zimbabwe se geskiedenis wees wanneer die regerng van nasionale eenheid uiteindelik na maande van twis die ooreenkoms in plek kry.
Woordvoerder Ronnie Mamoepa het bevestig dat Mbeki die geleentheid sal bywoon as die SAOG se onderhandelaar in die magsdelingsooreenkoms.
"Dit volg na die onlangse SAOG-onderhandelde globale politieke ooreenkoms wat gefasiliteer is deur voormalige president Thabo Mbeki, waarvolgens die drie hoof politieke partye in Zimbabwe ingestem het tot 'n regering van nasionale eenheid," het Mamoepa gesê.
"Suid-Afrika, soos die res van die lande in die streek, staan gereed om die mense van Zimbabwe te help op die moeilike weg na rekonstruksie, ontwikkeling, ekonomiese herstel en nasionale rekonsiliasie."
Mbeki was aan die ontvangkant van kritiek vir sy beleid van "stille diplomasie" wat betref die Zimbabwe kwessie.
Dinsdag het president Kgalema Motlanthe gesê die ooreenkoms is 'n "bewys" van Suid-Afrika se benadering ten opsigte van Zimbabwe, "ten spyte van kritiek uit sekere geledere."
Motlanthe sal na verwagting Vrydag in Harare aankom om die inswering van kabinetsministers by te woon.
Minister van buitelandse sake en die SAOG-voorsitter, Nkosazana Dlamini-Zuma, sal ook die verrigtinge bywoon.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.