Te min dokters is beskikbaar om al die pasiënte in sommige departemente van die Chris Hani Baragwanath-hospitaal te behandel, het die Gauteng departement van gesondheid Dinsdag gesê.
Woordvoerder Phumelele Kaunda het gesê die hospitaal se urologie departement het nie genoeg dokters om na al die pasiënte om te sien nie.
"Die tekort aan dokters maak dit moeilik vir hulle om na al die pasiënte op dieselfde dag om te sien," het Kaunda gesê.
Maandag het die DA gesê die hospitaal keer meer as 50 pasiënte per dag weg. DA woordvoerder Jack Bloom het gesê dit is "onmenslik" dat pasiënte weggestuur word en aanbeveel word om later in die week terug te kom.
In reaksie het Kaunda gesê dat dokters slegs op "afsprake" werk.
"Pasiënte wat nie ingeboek word nie, word na die buitepasiënte gestuur waar hulle behandeling ontvang terwyl hulle wag op die datums wanneer hulle die uroloog moet sien."
Sy was egter nie in staat om te kan sê wanneer die situasie by die hospitaal opgelos sal word nie, maar sy het gesê dat hulle daaraan werk om nog dokters te huur.
"Die tekort aan dokters is 'n globale probleem, maar die Gauteng departement van gesondheid streef daarna om gesondheidswerkers te werf en te behou."
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.