Die tamaties kom van Peru af en die spaghetti was waarskynlik ‘n geskenk van Sjina.
Dit is egter die “buitelandse” sosatie wat uit Italiaanse stede geskop word as die teiken van ‘n veldtog teen etniese geregte. Die veldtog word ondersteun deur die middel-regse regering van Silvio Berlusconi.
Die veldtog om Italianers Italiaans te laat eet, wat deur linkse en vooraanstaande kokke beskryf word as gastronomiese rassisme, het hierdie week in die dorp Lucca begin, waar die raad ‘n verbod geplaas het op die opening van enige nuwe etniese restaurant binne die stad se antieke mure.
Gister het dit na Lombardye en sy streekshoofstad Milaan versprei, waar die middel-regse regering aan bewind is. Die anti-immigrante Noordelike Ligaparty het die beperkings ingestel "om plaaslike spesialiteite te beskerm teen die toenemende gewildheid van etniese voedsel".
Luca Zaia, die minister van landbou en ‘n lid van die Noordelike Ligaparty van die Venetogebied het die owerhede in Lucca en Milan geloof vir hulle veldtog teen nie-Italiaanse kosse. “Ons staan vir tradisie en die bewaring van ons kultuur,” het hy gesê.
Mnr. Zaia het gesê daardie etniese restaurante wat toegelaat word om voort te gaan met besigheid, “of dit sosaties, soesie en Sjinese kos is” moet “ophou om skeepshouervragte vol vleis en vis te koop van wie weet waar” en net Italiaanse bestanddele gebruik.
Gevra of hy ooit ‘n sosatie geëet het, het mnr. Zaia gesê: ”Nee – en ek daag enige iemand uit om die teendeel te bewys. Ek verkies die kos van Veneto, waar ek vandaan kom. Ek weier selfs om pynappel te eet.”
Mehmet Karatut, wat een van 4 sosatie-restaurante in Lucca besit, het gesê hy gebruik net Italiaanse vleis.
Davide Boni, ‘n raadslid in Milaan vir die Noordelike Liga, wat ook die bou van moskees in Italiaanse stede teengestaan het, het gesê die eienaars van sosatie-restaurante was bereid om lang ure te werk, wat onbillike kompetisie was.
“Dit is ‘n nuwe Lombardiese kruisvaart teen die Sarasene,” het die dagblad La Stampa gesê. Die middel-linkse opposisie in Lucca het gesê die veldtog is diskriminerend en kom neer op “gastronomiese etniese moord”.
Vittorio Castellani, ‘n welbekende kok, het gesê: “Daar is geen gereg op aarde wat nie ‘n vermenging van tegnieke, produkte en smake is van kulture is wat oor tyd ontmoet en gemeng het nie.”
Hy het gesê dat baie geregte wat voorheen as Italiaans beskou is, eintlik ingevoer is. Die San Marzano-tamatie, ‘n hoofbestanddeel van Italiaanse pastasouse was ‘n geskenk van Peru aan die koninkryk van Napels in die 18de eeu. Selfs spaghetti is vermoedelik uit Sjina gebring deur Marco Polo en lemoene en suurlemoene het van die Arabiere af gekom.
Mnr. Castellani het gesê die verbod toon ‘n toenemende onverdraagsaamheid en vreemdelingevrees in Italië. Dit is ook ‘n slag teen immigrante wat hulle bestaan maak deur etniese kos te verkoop, wat gewild is omdat dit goedkoop is. Daar is 668 etniese restaurante in Milan, ‘n styging van byna 305 in een jaar.
Daar is tog verwarring oor wat met etnies bedoel word. Mnr. Di Grazia het gesê Franse restaurante sal toegelaat word. Hy was tog onseker oor Sisiliaanse kosse, aangesien dit deur Arabiese kookkuns beïnvloed is.
