Die direkteurgeneraal van kommunikasie, Lyndall Shope-Mafole, wat van haar kontrak vrygestel is met onmiddellike ingang het Donderdagaand gesê haar skeiding van die departement was "heeltemal vriendelik". Omdat sy nou voltyds vir die KVP se veldtog wil werk, het sy gevra dat haar kontraktydperk verkort word.
Shope-Mafole het by die KVP aangesluit net voor verlede jaar se nasionale konvensie in Sandton. By die party se stigting in Bloemfontein in Desember het sy die hoof geword van internasionale sake en 'n lid van die top-12 uitvoerendekomiteelede.
Sy het gesê dat sy omtrent 'n week lank met haar minister Ivy Matsepe-Casaburri gepraat het omtrent haar wens om vrygestel te word van die kontrak, wat oorspronklik in 2010 sou verval.
"Ek het Donderdag my versoek op papier gesit en dit gefinaliseer," het sy gesê. "Ek is verlig en dankbaar. Die minister was baie ondersteunend – sy kon 'nee' gesê het."
"Gegewe my verhoogde politieke betrokkenheid, het ek meer tyd nodig om die mense te dien," het sy gesê.
Sy het gesê dat sy haar volle gewig agter die KVP se verkiesingspogings gaan werp.
Shope-Mafole het gesê sy het "geen idee" wie in haar plek by die departement gaan intree nie.
"Hulle sal nou moet adverteer," het sy gesê. "Maar daar is 'n baie sterk en bekwame span, en dit het dit ook moontlik gemaak dat ek kan bedank."
Matsepe-Casaburri het Shope-Mafole bedank vir haar bydraes tot die openbare diens, "haar uitstaande rol in die internasionale telekommunikasiesektor en haar leierskap in Afrika" en het haar sterkte in haar nuwe aktiwiteite toegewens.
Ministeriewoordvoerder Joe Makhafola het gesê Shope-Mafole se kontrak is verkort in ooreenstemming met die regulasies. Sy was vir 'n dekade aan die stuur van die departement.
