Meer as 60 gestremde vrouestudente moes Dinsdagaand uit hul koshuis op die kampus van die Universiteit van Kwa Zulu-Natal verwyder word nadat ‘n brand uitgebreek het.
Die universiteit het intussen klasse vir die volgende twee weke weens die onluste opgeskort.
‘n Matras is blykbaar na agtuur in die koshuis, Charles James Hall, aan die brand gesteek.
Dit is die jongste in ‘n reeks voorvalle by die kampusse van die universiteit.
Studente het verlede week met oproer begin om te eis dat klasgeld nie verhoog word nie.
Niemand is in die voorval beseer nie.
Die president van die Howard College, Bandile Majola, sê voorvalle soos dié brandstigting is tot nadeel van die studente. Hy sê dit lei ook die aandag af van dit waarna die studente streef.
Oproepe om kalmte is gedoen nadat die universiteit se bestuur besluit het om die universiteit te sluit weens geweld op verskeie van sy kampusse.
Die bestuur het vroeër aangekondig dat hulle die Septembervakansie vervroeg en die instelling onmiddellik sluit. Die universiteit het ook alle akademiese programme weens die betogings opgeskort.
Ses voertuie is vroeër aan die brand gesteek, terwyl studente probeer het om die Senaatgebou op die universiteit se Westville-kampus aan die brand te steek.
Die polisie het 22 studente in hegtenis geneem. Die onrus hou na bewering verband met die studente se eis dat klasgelde nie volgende jaar verhoog sal word nie.
Hulle eis ook verteenwoordiging op die universiteit se bestuursraad. Klasse sal weer op 20 September hervat.
