Volgens prof Mamadou Samake van die Universiteit van Bamako is Maliërs nie juis geïnteresseerd in politieke aangeleenthede nie. Sowat 80% van die bevolking van dertien miljoen mense sukkel om ekonomies te oorleef. Die gemiddelde vrou bring 6,7 kinders in die lewe. Politiek is dus in hierdie konteks nie ’n prioriteit nie. Baie mense is ook onbewus van die feit dat hulle stemgeregtigd is. “Baie van hulle weet nie eens dat hulle geregistreerd is nie,” het hy gesê.
Die persepsie dat die huidige president, Amadou Toumani Touré egter beslis aan bewind sou bly, het ook meegebring dat mense nie lus was om te gaan stem nie.
Die stemlys is egter nie baie betroubaar nie: oorledenes se name word nie verwyder nie en duplikasie vind dikwels plaas. Stembusse is verder in baie gevalle kilometers ver van afgeleë nedersettings.
Samake glo dat dit beter sal werk as mense in die toekoms vrywilliglik gaan registreer as kiesers, eerder as om outomaties op ’n lys te verskyn. Sulke mense sal beslis moeite doen om te gaan stem. “Maliërs besef nie dat die stembus ’n wapen is om dinge te verander nie,” het hy voorts gesê.
