Veediefstal kos boere ten minste R1,5 miljard per jaar

Skaapboere in die Vrystaat ly verliese van sowat R1,5 miljard per jaar as gevolg van veediefstal.

Dit is volgens navorsing deur WA Lombard, ‘n student in landbou-ekonomie wat aan sy Meestersgraad aan die Universiteit van die Vrystaat werk.

Die ysingwekkende bedrag het aan die lig gekom in ‘n verklaring wat uitgereik is deur Vrystaat Landbou se Veiligheidstruktuur.

Lombard se navorsing het net gefokus op direkte verliese, wat daarop dui dat indien die verlies van teeldiere of beter gene in ag geneem word, die werklike syfer soveel as R2 miljard per jaar kan beloop.

VL het beklemtoon dat ‘n ernstige toename in veediefstal sedert die begin van 2016 waargeneem is.

Een voorbeeld is in die Steynsrus-gebied, wat drie keer tussen April en 20 Junie getref is en waar tot 31 skape geslag is per voorval.

In ‘n ander geval in die Oos-Vrystaat is hoëgehalte stoetbulle van R450 000 gesteel en later geslag in die veld gekry.

Die navorsing het ook beklemtoon dat in die verslagdoening van veediefstal, daar tussen 60% en 70% gevalle nie eers aangemeld word nie.

Veediefstal se probleemareas sluit in Bethlehem, Ficksburg, Bloemspruit, Harrismith, Phuthaditjaba, Selosesha, Zastron, Heilbron, Vrede en Bothaville.

3 thoughts on “Veediefstal kos boere ten minste R1,5 miljard per jaar”

Maak 'n opvolg-bydrae