Die Palestynse ambassadeur in Suid-Afrika het Dinsdag Israel se aanvalle in Gasa as "'n slagting van die onskuldiges" bestempel.
Sy eksellensie Ali Hamija het aan joernaliste by 'n perskonferensie by Luthulihuis in Johannesburg gesê sy mening is dat die aanvalle in Gaza oorlogsmisdade is.
"Daar is geen politieke of humanitêre gronde vir die aanvalle nie," het hy gesê.
Hy het gesê diegene wat die meeste geraak word, is onskuldig, met omtrent 75% vroue en kinders.
ANC-sekretarisgeneraal Gwede Mantashe, wat sy gasheer was, het gesê dit is duidelik vir die ANC dat solank as wat Israel grond beset wat regmatig aan die Palestyne behoort, daar nooit 'n werkende oplossing sal wees vir die konflik in die omgewing nie.
"Die ANC doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om alle moontlike hulp aan die mense wat in Gasa swaarkry te gee. Ons doen 'n beroep op die regering om humanitêre hulp te koördineer en te reël vir onmiddellike vervoer van die hulp na die mense van Gasa," het Mantashe gesê.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.