Die Nuwejaar behoort 'n spoedige oplossing te bring vir die uiters onuithoudbare toestand in Zimbabwe, het Jacob Zuma Dinsdag in sy Kersfees- en Nuwejaarsboodskap gesê.
"Ek het op verskeie kere my toenemende kommer uitgespreek oor die ernstige politieke krisis en meegaande menslike tragedie in Zimbabwe," het Zuma gesê.
Hy het bevestig dat die ANC sy 97ste herdenking sal vier en sy verkiesingsmanifes in Oos-Londen op 10 Januarie sal bekendmaak.
Zuma het gesê dat Suid-Afrika nou 'n regering nodig het met ondervinding en politieke wilskrag, en wat ten volle verstaan wat gedoen moet word om die apartheidsverlede aan te spreek.
"Terwyl ons trots is op die sterk fondasie wat deur ons lang heroïese geskiedenis daargestel is, is die ANC eintlik 'n organisasie wat vorentoe kyk en daaraan toegewy is om verandering en dienslewering te versnel, om die lewens van elke burger te verbeter.
Hy was baie bewus daarvan dat 2008 in 'n ekonomiese sin 'n baie moeilike jaar was vir baie suid-Afrikaners.
"Die ekonomiese beleid wat die ANC-regering gevolg het, het veroorsaak dat die internasionale ekonomiese resessie nie die land so erg benadeel het as wat dit kon nie."
"Ek is wel terdeë daarvan bewus dat daar poste verlore gaan en dat baie Suid-Afrikaners die gevolge van die ekonomiese daling ervaar," het Zuma gesê.
"Ons het steeds 'n lang pad om te gaan voordat ons kan sê dat ons 'n meer regverdige samelewing het wat die erfenis van apartheid oorwin het."
"Tog bly ons toegewyd aan 'n ontwikkelende staat, met die uitwissing van armoede en werkskepping as ons belangrikste prioriteite," het hy verder gesê.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.