Brande in Umlazi
Chaos het vandag in die Durban-middestad geheers toe duisende ontstoke IVP-ondersteuners, gewapen met stokke en kieries, deur die strate gehol het. Hulle was op pad na die stadsaal en het betoog teen die plaaslike munisipaliteit se voorstel om straatname na dié van ANC-helde te verander.
Winkeleienaars het inderhaas hul winkels gesluit, uit vrees dat die betogers skade sou aanrig. Polisielede het verkeer probeer stop terwyl die betogers in die vyf lane van Broadstraat afgehardloop het. Asblikke is omgekeer. By Albertpark het hulle by 6 000 ander betogers aangesluit. Hulle het toe met Weststraat afbeweeg na die stadsaal. Skote is deur een van die betogers afgevuur en winkels in Greystraat is beskadig en goedere gebuit. Sowat 10 000 betogers het by die stadsaal saamgedrom. Die byeenkoms is deur die DA en die IVP gereël. “Hou op om strate na julle meisies te vernoem!” “Wie is hierdie mense?” en “Ons het almal ons helde”, het sommige van die plakkate gelui.
Die plaaslike eThekwini-munisipaliteit beplan om die Mangosuthu-hoofweg te herdoop na Griffiths Mxenge, ‘n ANC-prokureur wat in die tagtigerjare dood is. Daar word verder beplan om die stadsaal na Madiba Hall te herdoop en om Broadstraat te vernoem na Yusuf Dadoo, ‘n SAKP-leier. Kingsway, vernoem na Dick King, gaan nou verander word na Andrew Zondo, die meesterbrein agter die Amanzimtoti-bomaanval. Higginson-hoofweg kan binnekort Yasser Arafat-hoofweg heet.
Burgemeester Obed Mlaba was nie by die stadsaal teenwoordig om die memorandum van die betogers in ontvangs te neem nie en die dokument is toe aan ‘n polisiebeampte oorhandig. In die memorandum vra die IVP dat die munisipaliteit slegs in uiterste gevalle plekname verander en wil weet hoekom name soos Fidel Castro en Che Guevara gekies word, aangesien hierdie persone geen rol in Kwazulu-Natal gespeel het nie en hulle demokratiese ingesteldheid te betwyfel is.
Vroeër die dag het omgekrapte betogers die Mangosuthu-hoofweg in Umlazi vir ure lank ontwrig deur motorbande aan die brand te steek en asblikke op die pad rond te strooi.
In sy Internet-nuusbrief het Mangosuthu Buthelezi gesê dat die verwydering van sy naam nie sy bydrae tot die bevrydingstryd in die gedrang sal bring nie, maar dat die naamsveranderinge ou wonde weer kan oopkrap wat tot hernieude geweld in die provinsie aanleiding kan gee.
дизайн прихожей освещениеданильченко юрій броніславович