Die kaper van die vliegtuig van die Egiptiese lugredery, Seif Eddin Mustafa, het met ‘n oorwinningsteken die Cipriese hof in ‘n polisievoertuig verlaat.
‘n Britse man, Ben Innes, het homself saam met die kaper laat afneem tydens die drama.
“Slegs Ben kon ‘n Selfie kry! #proud,” het ‘n familielid Sarah Innes later getwiet nadat hy die foto uitgestuur het waarin hy breed glimlag. Haar rekening is nie lank daarna nie deur Twitter verwyder.
Die kaper bly in aanhouding in Larnaca terwyl klagtes wat kaping, onwettige besit van plofstof en ontvoering, teen hom ondersoek word.
Mustafa, wat as “sielkundig onstabiel” beskryf word, het Dinsdag ’n vliegtuig onderweg van Aleksandrië na Kaïro gekaap en gedreig om die vliegtuig op te blaas.
Die “plofstof” wat hy by hom gehad het, was nie eg nie en al die passasiers is na ses ure ongeskonde vrygelaat.
