Die Boeing 737-800 van Flydubai wat dié naweek digby die Russiese stad Rostof neergestort het, se vlugopnemers is só beskadig dat dit glo weke sal neem om inligting daarop te ontsluit.
Maar Russiese owerhede het reeds die swart vlugopnemers opgespoor, het ‘n woordvoerder van die IAC-vlugowerheid, wat ‘n ondersoek na die ongeluk begin het, aan Reuters bevestig.
Die vliegtuig het vroeg Saterdagoggend neergestort na ‘n mislukte landing en die 62 mense aan boord het omgekom.
Die Russiese minister van vervoer, Maxim Sokolov, het blomme op die toneel geplaas waar kerse gebrand het en foto’s van die gestorwenes neergesit is.
‘n Tegniese probleem met die vliegtuig kon die ongeluk veroorsaak het, maar klaarblyklik was die personeel oorwerk.
Intussen het ‘n voormalige Flydubai kaptein aan die media gesê dat vlieëniers gedwing word om te werk terwyl uitgeput is, ten spyte van klagtes.
In gesprekke met RT in Doha, die voormalige vlieënier op voorwaarde van anonomiteit gesê Flydubai se topbestuur was bewus van die probleem, maar het niks gedoen om dit op te los nie.
Die vliegtuig het neergestort toe die vlieënier ’n tweede keer probeer land het.
Dié lughawe in die suide van Rusland het intussen weer vir lugverkeer heropen nadat dit vir twee dae gesluit was. “Die lughawe is weer ten volle operasioneel,” het ‘n lughawe-woordvoerder aan AFP gesê.
Noodwerkers het die ramptoneel, bedek onder ’n laag sneeu, Mandag gefynkam terwyl die kwik tot -5 °C gedaal het.
Flydubai sal die gesinne van die rampslagoffers vergoed met ongeveer R300 000 per passasier wat uitbetaal sal word, luidens ‘n verklaring.
