Woordvoerder Ronnie Mamoepa het gesê die departement sal "enige hulp wat nodig is" aanbied aan die familie van die 53-jarige man. "Die Suid-Afrikaanse regering dra sy diepe meegevoel oor aan die familie en geliefdes van die oorledene, en sal die nodige konsulêre hulp verleen aan die familie in die tydperk van rou," het hy gesê.
'n Nadoodse ondersoek is gedoen om die oorsaak van dood te probeer vasstel.
AFP het vroeër berig dat die man Dinsdag aan hemorragiese koors oorlede is.
Hy het klaarblyklik op 25 November siek geword, twee dae nadat hy in Brasilië aangekom het vir konferensies.
AFP het berig dat die man simptome van koors, braking, bloed in sy urine en uitslae gehad het. Dokters het vermoed dat hy 'n arenavirus opgedoen het.
Die arenavirus is 'n groep hoogs aansteeklike virusse, wat tipies van knaagdiere na mense oorgedra word of deur die liggaamsvloeistowwe van mense wat dit onder lede het.
Hospitaalpersoneel wat die man behandel het, word nou gemonitor vir dié simptome.
Die man se liggaam sal na verwagting na Suid-Afrika teruggestuur word in 'n geseëlde metaalkis, het AFP gesê.
Vier mense is reeds in die land oorlede aan 'n nuwe tipe arenavirus sedert Cecilia van Deventer van Zambië af na Suid-Afrika gevlieg is vir noodbehandeling in September.
Drie vorige besoeke aan mediese fasiliteite het nie daarin geslaag om vas te stel wat haar makeer het nie.
Ná haar dood het nog drie mense as gevolg van die virus gesterf, insluitend die paramedikus wat haar van Zambië af vergesel het, Hannes Elf, 'n verpleegster by die Morningside Medi Clinic, Gladys Mthembu en Maria Mokobung, 'n kontrak skoonmaker.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.